Duur ge(d)oop
Hierdie onderwerp in kerke is gewoonlik ‘n skeidingsoomblik.
“Is jy gedoop?” vra iemand my onlangs (baie trots).
“Ja, ek is twee keer gedoop”.
“Twee keer? Sjoe, ek is net een keer gedoop toe ek maar nog ‘n baba was. Geen kerk doop mens twee keer nie. Hoekom twee keer?”
--
Is dit nie vreemd hoe doop gesien word as ‘n volgende item op ‘n inkopielys nie? As jy dit gedoen het kan jy dit maar afmerk en sê, “Goed, dis gedoen. Wat is volgende?”, asof dit jou heiligheid koop.
Laat ek dan die een wees wat met jou meedeel, doop koop nie jou plek in die hemel langs Jesus nie, om te glo in Jesus en Hom aan te neem as jou Verlosser en Saligmaker is wat jou lei na verhouding met Hom en uit verhouding uit kan jy nie anders as om publiek te wil verklaar dat Jesus die enigste weg is. Uit verhouding met die Heilige Gees word jy nader en nader getrek na die Heiligheid van God en kies jy om gedoop te word sodat jy alles neerlê wat jy was en opstaan uit die water uit soos Jesus uit die dood opgestaan het.
Doop, nie besprinkeling nie. Nee! Doop. Onderdompeling. So wat is doop?
Doop is ‘n sakrament waar ‘n belydende Christen in water gedoop word met die doel om publiek te verklaar dat die persoon in Jesus glo.
Dit gesê, voeg ek by wat Paulus skryf uit Efesiërs 4:4-6
4 Daar is net één liggaam en één Gees, net soos julle net één toekomsverwagting het op grond van julle roeping –
5 één Here, één geloof, één doop, 6 één God, ons almal se Vader; Hy heers oor almal, werk deur almal en woon in almal.
--
Ek is twee keer gedoop. Ek glo dis deel van my getuienis en wie ek is as kind van God, Eggenoot vir my man en Ma vir my kinders.
Ek is gedoop as tiener, daar was opgewondenheid en ‘n hunkering na waar ek hoort. Dit het gevoel of ek uiteindelik weet waar ek moet wees en wat ek gaan doen met my lewe.
Fast Forward 5 jaar, op ‘n kamp vir jong volwassenes staan ek in bediening (maar natuurlik het ek die antwoorde en regte gebed) met ‘n gebroke identiteit, met maskers en voorgee… en Jesus kom tel my op waar ek myself sien as onbruikbaar, onredbaar en Hy herstel my.
Jesus. Nie ek nie.
Die Heilige Gees kom met Sy sagte leiding en wys my dat Hy my lief het!
Mý kan gebruik en dat my roeping nie in die identiteit sit van wie ek is nie maar wie HY is.
Ek is weer gedoop. Doop nommer 2. Wat gaan die mense dink? Nee wat! Ek is intensioneel lief, aanvaar onvoorwaardelik en gesond in Jesus se arms.
Ek verklaar met my doop, ek kies Jesus.
Dis net Jesus.
Vir ewig en altyd.